Waarheen vat jy vanjaar die langpad? LekkeSlaap.co.za het gaan ondersoek instel na Suid-Afrika se gewildste roetereise, oftewel roadtrips. So, as jy reis-inspirasie vir die komende jaar soek en lief is vir nuwe landskappe, gesigte en stories, lees ’n bietjie verder. 

Panoramaroete

Mpumalanga

Pak jy hierdie kronkelende roete al langs die noordoostelike Drakensberg-platoraand aan, wag panoramiese uitsigte oor lowergroen kranse, verskeie sprokiesmooi watervalle en een van die grootste rivierpoorte ter wêreld op jou! 

Panorama route Blyde River Cayon
Foto: Matthias Mullie op Unsplash

Groot trekpleisters op dié roete sluit die Blyderivierspoort, die God’s Window-uitkykpunt, watervalle soos die Bridal Veil-, Mac Mac-, Berlyn- en Lisbon-waterval, Bourke’s Luck se kolkgate en die Drie Rondawels in. Hierdie natuurlike hoogtepunte word deur toeristedorpies soos die geskiedkundige prospekteerdersdorpie, Pelgrimsrus, en besienswaardighede en aktiwiteite soos die Hoedspruit Endangered Species Centre, Echo-grotte, padstalle, en voetslaan- en bergfietsroetes gekomplementeer. 

Weens die Panoramaroete se natuurlike eindpunt sowat 70 kilometer vanaf die Krugerwildtuin is dit ’n uitstekende roete onderweg na jou jaarlikse wildkykwegbreek en daar is ook ’n aantal natuurreservate en wildparke soos die Sabi Sands Wildreservaat en die Gustav Klingbiel Natuurreservaat om te besoek.

Waar? Die roete begin aan die onderste punt van die Long Tom-pas buite Lydenburg en eindig by die Mpumalanga-Limpopo-grens naby die Echo-grotte. 
Dorpe op die roete: Lydenburg, Sabie, Witrivier, Pelgrimsrus, Graskop, Hazyview, Ohrigstad. Baie mense werk ook Dullstroom by die roete in.
Wanneer om te gaan? Wintertyd is verkieslik omdat die roete dan droër is. Die somerreën bring mis wat jou uitsig mag versper, maar dan is daar ook wit en pienk lelies al langs die pad, so dit sou afhang van wat jou die meeste plesier sal verskaf. 
Watter tipe voertuig? Enige voertuig is geskik, want die roete is geteer, maar let dat die paaie nie baie goed in stand gehou word nie en baie slaggate bevat. Wees ook asseblief paraat as jy langs die pad stop en moenie waardevolle items in die voertuig los nie.

Het jy geweet? Die Blyderivierspoort is die derde grootste rivierpoort ter wêreld, naas die Grand Canyon in Amerika en die Visrivier Canyon in Namibië, maar dit is ook die heel grootste groen rivierpoort.

Panorama Route Accommodation Panoramaroete akkommodasie
Foto: Linger Longer Country Retreat op LekkeSlaap.co.za

Kokerboomroete

Noord-Kaap

Rits rond in ’n wêreld waar die Oranjerivier wingerde uit die rooi sand laat spruit, waar klipkoppies om jou uittroon en kokerbome hulle sterretjies-arms na die hemele uitstrek. Die Kokerboomroete is nie een reguit pad nie, maar behels ’n paar draaie om by verskeie besienswaardighede op dié toerismeroete uit te kom. 

Quiver Tree Route Kokerboomroete
Foto: Chris Stenger op Unsplash

Stap tot bo-op Tierberg, ’n heuwel in Keimoes, om die beste uitsig oor die Groen Kalahari se wingerde te kry en les daarna jou dors by uitstekende kelders, ook gin- en stookketel-brandewynkelders soos Die Mas en Bezalel, wat Wes-Kaapse kelders laat les opsê. As jou dors nog nie behoorlik geles is nie, is daar op die regte tyd sommer baie water by die Augrabies-waterval in die Augrabies Nasionale Park, want dit is hierheen waar die groot damme van ons land se sluise oopgemaak word ná goeie reën en dan raas die Oranjerivier tot by die park waar dit ten aanskoue van stringe toeriste (en reënboogkleurige Broadley’s-likkewane!) met ’n groot geraas by ’n 56 meter hoë kloof aftuimel — ’n waterspektakel soos min! 

Nadat jy by die prettige Pienk Padstal gestop het en vir jou ’n lekker leesboek, ’n geregistreerde kokerboompie en boeretroos gekoop het, vat die 60 kilometer-grondpad uit Kakamas na Riemvasmaak, langs die droë Moloporivier, waar jy die res van die dag tussen granietkoppies in ’n natuurlike warmwaterbron kan ontspan — onthou net jou sonhoed en sonbrandroom vir die ongenadige son! Hierdie oord, ’n gemeenskapsprojek, bied ook piekniekplek, 4×4-roetes en staproetes deur die maanlandskap. Sluit dan jou dag met ’n skemerkelkiebootvaart op die Oranjerivier by Khamkirri af. Dit is net ván die lekker besienswaardighede wat die Kokerboomroete inhou.

Waar? Die roete loop draaie tussen Upington, Keimoes en Kakamas tot by Augrabies en Riemvasmaak. 
Dorpe op die roete: Upington, Keimoes, Kakamas, Kanoneiland, Riemvasmaak, Augrabies 
Wanneer om te gaan? Dit is baie warm hier in die somer, maar die Augrabies is ook dikwels in Januarie in vloed, so weeg op wat vir julle die belangrikste faktor is en besluit daarvolgens of julle kans sien vir die hoë kwik.
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die paaie kan ry, maar jy sal plek-plek ekstra grondvryhoogte waardeer, veral indien jy besluit om eerder grondpaaie te ry of as jy Riemvasmaak toe gaan. 

Het jy geweet? Augrabies beteken in die Khoi-taal “water wat donder” en is uiters geskik aangesien dit oorverdowend is wanneer dié waterval in vloed is.

Kokerboomroete verblyf Quiver tree route accommodation Green Kalahari Groenkalahari
Foto: Khamkirri op LekkeSlaap.co.za

Midlands Meander

KwaZulu-Natal

Hierdie 80 kilometer-roete in die groen voorheuwels van die Drakensberge, tussen die berg en tropiese kuslyn, staan ook as Suid-Afrika se kunsvlytroete bekend omdat dit soveel kunstenaars, kunsvlytmakers en vakmanne se ateljees en winkels bevat, en jy kan sommer ook ’n draai by die kus maak (Durban is net een uur se ry ver!) of die Drakensberg by jou reis inwerk.

Midlands Meander
Foto: Fish Eagle Cottage op LekkeSlaap.co.za

Die Meander is enige inkopiedier se droom. Daar is wewers, pottebakkers, houtwerkers, kunstenaars, leerwerkers, metaalsmitte, kaasmakers, baristas, chocolatiers en bierbrouers te kus en te keur en die winkels is lekker versprei in die pragtige landskap van grasheuwels, rotsagtige kranse en mistige woude wat dit die mooiste mall maak wat jy al ooit ervaar het. Koop vir jou ’n unieke mat by Shuttleworth Weaving, ’n lieflike hangmat by Heavenly Hammocks, ’n stukkie keramiekkuns by Ardmore Ceramics, ’n leersak of -skoene by Groundcover en stop by Terbodore Coffee Roastery en Wedgewood Nougat se vlagskipwinkels — maak net seker jy’t genoeg plek in die voertuig!

Maak dan ook ’n draai by die Midmardam as jy lief is vir watersport want hiér kan jy seilplankry, bootvaar, kanovaar en vele meer, en as jy kunsvlieghengel is jou opsies op hierdie roete legio met alles van stil damme tot kabbelende rivierstrome waar jy geelvis, forel en baars kan hengel. Verken die area op die rug van ’n perd by instansies soos Stormy Hill of volg die Slagveldroete, ’n roete vir geskiedenisliefhebbers, wat die grootste konsentrasie historiese slagvelde in Suid-Afrika bevat. By Karkloof kan jy ’n boomtoptoer deur ’n inheemse woud inwerk en vir ’n loerie of ’n samango-aap waai, en na die tyd, vir ontspanning, kan jy by ’n luukse spa indraai, soos dié by Granny Mouse en Fordoun Hotel and Spa.  

Waar? Die roete strek van net anderkant Mooirivier in die noorde na Hilton in die suide, Karkloof in die ooste en die voorheuwels van die Drakensberg in die weste. 
Dorpe op die roete: Howick, Mooirivier, Nottingham Road, Lions River, Rosetta, Balgowan, Dargle en Estcourt.  
Wanneer om te gaan? Weens die feit dat dié streek naby die tropiese kus is, kan jy inderwaarheid enige tyd van die jaar ’n lekker ervaring hiér hê, maar in die winter mag dit dalk in dié dele naby die berg kouer wees wanneer dit sneeu.
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die geteerde paaie kan ry, al is die pad plek-plek nie goed onderhou nie.

Het jy geweet? Die Midlands Meander het in 1985 met net ses kunsateljees begin. Vandag bestaan dit uit meer as 160 plekke om te eet, drink, slaap, inkopies te doen en jouself gate uit te geniet.

Midlands Meander accommodation
Foto: Brambleberry op LekkeSlaap.co.za

Malotiroete 62

Vrystaat

Hierdie sowat 300 kilometer-roete in die Oos-Vrystaatse Hooglande is uit ’n samewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Koningkryk van Lesotho gebore om toerisme te bevorder en kronkel via die R26 al langs die Malotiberge wat Suid-Afrika se grens met Lesotho vorm. 

Maloti Route Maluti Region Malotiroete Vrystaat
Foto: Bigstock

Die Suid-Afrikaanse deel van die roete sluit dorpies soos Ficksburg, Fouriesburg en Bethlehem en besienswaardighede soos die Golden Gate Nasionale Park en Sterkfonteindam in. Effens verder is die gewilde toeristedorpies Clarens en Rosendal, wat ook groot trekpleisters is. Gaste kan by die Sterkfonteindam hengel, die pragtige Brandwagkrans en verskeie voetslaanroetes in die Golden Gate Nasionale Park verken, en ’n draai in karaktervolle dorpies soos Rouxville, Zastron, Wepener, Ladybrand en Clocolan maak. Besoek die aasvoëlkolonie in Zastron, gaan draai in Wepener by die Jammersberg, val in by Ficksburg se Kersiefees en bly in een van Fouriesburg se sandsteenkothuisies!

As jy ’n paspoort byderhand het, kan jy by die Caledonspoorthek Lesotho binnery en hier verskeie sendingkerke, Basotho-kultuurdorpies en kunsvlytmakers besoek en ondersteun, in die wintermaande by Afriski ski en (sou jy dit ’n behoorlike roetereis wou maak) selfs by die Sanipas aan die oostekant van Lesotho in KwaZulu-Natal af ry en ook daardie kant van die Drakensberg verken, maar dan benodig jy ’n tawwer voertuig met ’n behoorlike grondvryhoogte. 

Waar? Die amptelike roete strek vanaf Rouxville al langs die R26 tot by Fouriesburg. As ’n alternatief kan jy ook van die R26 afdraai en die R70 tot by Rosendal volg, op die R711 tot by Clarens aanhou of by die Caledonspoorthek Lesotho binnery.
Dorpe op die roete: Rouxville, Zastron, Wepener, Ladybrand, Clocolan, Ficksburg, Fouriesburg en Bethlehem. Rosendal en Clarens kan ook besoek word.
Wanneer om te gaan? In die wintertyd is die sneeubedekte berge op hul mooiste en as jy by Afriski wil draai, is dit belangrik om in die wintertyd dié roete aan te pak. Let egter dat die paaie maklik deur sneeu versper kan word as jy Lesotho se kant toe gaan. Die somer is meer gematig en word met donderstorms afgewissel en in November en Desember is daar heelwat veldblomme te sien. Ficksburg se kersiefees vind ook gewoonlik in November plaas (onderhewig aan Covid-regulasies).
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die paaie in Suid-Afrika kan ry. Kyk egter vooruit na die toestand van die R26 aangesien dit dikwels slaggate bevat. As jy Lesotho toe wil gaan en die Sanipas terug tot in Suid-Afrika wil ry, word ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte benodig.

Het jy geweet? Maloti of Maluti beteken “berg” in baSotho — ’n gepaste naam vir hierdie bergagtige streek.

Maloti Route accommodation Fouriesburg Accommodation
Foto: Wyndford Holiday Farm op LekkeSlaap.co.za

Tuinroete

Wes-Kaap

Dié woudagtige streek is ’n paradys vir natuurliefhebbers en dit is nie moeilik om te sien waarom hierdie roete een van Suid-Afrika se bekendste vakansiebestemmings is nie. Hier, tussen reusebome en varings en die warm Indiese Oseaan, is ’n rits unieke diere, plante en paadjies deur die woud en langs die branders wat jou siel sal verkwik. 

Garden route Tuinroete suspension bridge
Foto: Bigstock

Die Tuinroete begin net sowat vier ure se ry buite Kaapstad by Witsand in die Hessequa-streek,  en van hier af kan gaste die N2 al die pad verby dorpe soos Mosselbaai, Wildernis, Knysna, Plettenbergbaai en Stormsrivier neem, met elke dorpie langs die pad wat sy eie unieke bekoring inhou. 

Al die strande langs die roete is die moeite werd om te besoek, maar ’n handjievol hoogtepunte sluit ’n besoek aan Knysna se waterfront en strandmeer, Sedgefield se Wild Oats Market en tweedehandse meubelwinkels, verskeie voetslaanroetes deur die woude en langs die kus, die uitsig van die Map of Africa in Wildernis, besoeke aan Monkeyland en Birds of Eden, brugspring by Bloukrans, boomtoproete met Canopy Tours en swartrivier-tjoepvaart by Tsitsikamma in. Een ding is vir seker, na die Tuinroete kan jy keer op keer terugkeer en elke keer iets nuut vind om te sien en te doen.  

Waar? Die Tuinroete begin net sowat vier ure se ry buite Kaapstad by Witsand in die Hessequa-streek en strek tot by Nature’s Valley.
Dorpe op die roete: Witsand, Stilbaai, Mosselbaai, Hartenbos, Groot-Brakrivier, Glentana, Klein-Brakrivier, George, Victoriabaai, Heroldsbaai, Wildernis, Knysna, Buffelsbaai, Brenton-on-Sea, Sedgefield, Plettenbergbaai, Tsitsikamma, Nature’s Valley en Stormsrivier 
Wanneer om te gaan? Die Tuinroete se gewildheid is deels toe te skryf aan die matige klimaat wat heel jaar hier seevier, dus is enige seisoen ’n goeie idee. Spring net in die kar! 
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die paaie kan ry.

Het jy geweet? Die meeste van die geliefde skrywer Dalene Matthee se klassieke romans speel in en rondom Knysna se woud af omdat sy so lief vir die streek was. Daar is selfs ’n Kringe in die Bos-staproete deur die woud wat na een van haar gewildste romans vernoem is.

Garden route accommodation tuinroete akkommodasie
Foto: Trogon House & Forest Spa op LekkeSlaap.co.za

Roete 62

Wes-Kaap en Oos-Kaap

Roete 62 is seker een van die lekkerste langpadroetes in Suid-Afrika en bied pret en plesier te midde pragtige Karoo-landskappe. Hier is skouspelagtige bergpasse en heerlike kuierdorpies al langs die R62 waar gaste deur Klein-Karoo-gasvryheid oorval sal word — en dan ook sommer ’n glasie muskadel of twee as verwelkoming mag kry!

Berluda Farm Cottages Route 62
Foto: Berluda Farmhouse & Cottages op LekkeSlaap.co.za

Die roete het oor die jare uitgebrei om dorpe soos Robertson, McGregor, De Rust en Tulbagh in te sluit, dorpe wat nie tegnies langs die R62 geleë is nie, maar, hoewel hierdie dorpe ook baie het om te bied en beslis ’n wye draai werd is, is die hoofdorpe op Roete 62 eintlik maar dié wat langs die R62 tussen Ashton in die Wes-Kaap en Kareedouw in die Oos-Kaap geleë is. Dit sluit groot name soos Montagu, Barrydale en Oudtshoorn in, maar volg die padkaart voor julle wegtrek en besluit self waar jy sou wou draai en dorpies wil bywerk — dis immers die punt van ’n roetereis!

Roete 62 is veral bekend vir sy wynkelders en dan ook spesifiek vir sy heerlike soetwyne en muskadel, die perfekte soewenier van julle uitstappie. Terwyl jy in Montagu is, gaan ook vir ’n trekkerrit op ’n Proteaplaas, koop neute en gedroogte vrugte vir die langpad, besoek die dorpsmuseum wat in plantgeneeskunde spesialiseer en stop by die tiental winkeltjies en padstalle in die besige hoofstraat. Barrydale is ’n kunstenaarsdorpie met verskeie heerlike eetplekke, strate wat jou vir ’n wandeling nooi en oulike winkels en galerye waar jy geskenke en konfyte by dosyne sal vind. Ladismith bied baie meer as net lekker kaas (maar die kaas is ook noemenswaardig!) en Calitzdorp is bekend vir sy Port en Wynfees. Op pad na Oudtshoorn kan jy by die bekende Ronnies Sex Shop ’n heerlike melkskommel in die Karoo-hitte geniet en moenie ’n besoek aan die wêreldbekende Kangogrotte misloop nie. Joubertina in die Langkloof spog met klein-dorpie-bekoring en ’n paar rotstekeninge van vervloë dae en Kareedouw bring jou weer na ’n lowerryke wêreld wat ideaal is vir natuurliefhebbers — dis ook die suidelike ingangspunt van die Baviaanskloof. Diegene wat na die Tuinroete toe op pad is, sal ook vind dat Roete 62 ’n baie interessante alternatief bied vir die N2 tussen Kaapstad en George.

Waar? Die roete strek vanaf Ashton in die Wes-Kaap tot by Kareedouw in die Oos-Kaap, die laaste dorp op die R62 voor die pad teen die N2 doodloop.
Dorpe op die roete: Ashton, Montagu, Barrydale, Ladismith, Zoar, Calitzdorp, Oudtshoorn, Avontuur, Joubertina, Kareedouw
Wanneer om te gaan? Omdat dit in die wintermaande baie koud en in die somer baie warm hier kan wees, stel ons hierdie roete as ’n herfs- of lenteroete voor. 
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die paaie kan ry tensy jy nou plek-plek grondpad wil inwerk.

Het jy geweet? Die verlengde Roete 62 tussen Kaapstad en Port Elizabeth is die langste wynroete in die wêreld! 

Roete 62 verblyf Route 62 accommodation Montagu
Foto: The Barn on 62 op LekkeSlaap.co.za

Weskus

Wes-Kaap

O, die Weskus! Land van lang witsandstrande, lekker kuiermense, kaalvoet-strandkafees, kreef en snoek oor die kole en ongerepte natuur wat in die lentetyd veldblomme wys so ver soos jy kan sien. Vat jy die pad al langs die Weskus, wag daar ’n kwaliteit-vakansie op jou wat jy nog vir weke in jou bruingebrande vel sal kan sien. 

Weskus West Coast
Foto: Salty Sandals op LekkeSlaap.co.za

Van watter kant jy ook al die Weskus tref, daar is dit lekker, maar as jy in die suide begin val Yzerfontein jou eerste te beurt. Hier is ’n troeteldiervriendelike Sestien Myl-strand, eetplekke te kus en te keur, en effens meer na die binneland die gewilde Darling waar jy by Evita se Perron kan eet en rondsnuffel of by Darling Brew kan aansit vir ’n lekker boetiekbier. Neem dan die R27 tot in Langebaan en maak gerus ’n draai by Club Mykonos, die gewilde Langebaan-strandmeer en die Weskus Nasionale Park — wanneer dit blommetyd is moet jy vroeg by die hek wees. Vredenburg, Jacobsbaai en Saldanha, waarheen die ystererts van Sishen per trein vervoer word, het lekker mense en kaalvoeteetplekke. Paternoster, met sy Columbine-vuurtoring, afgewitte huisies, Panty Bar en fynproewersrestaurant, Wolfgat, hoort op jou reislysie en van hier af sal die saligheid van St. Helenabaai en die flaminke van Velddrif jou bekoor. Tensy jy die grondpad vat, sal jy ’n bietjie binneland toe moet keer voordat jy verby Redelinghuys tot by Elandsbaai vorder. Ná Elandsbaai, omdat dit al ’n entjie uit die Kaap uit is,  raak die Weskus al hoe “stiller” en kom hy tot sy eie reg by dorpe soos Lambertsbaai waar die bekende Voëleiland, Isabella’s Restaurant en Muisbosskerm op jou reislys hoort, jy plaaslike kunstenaars te huis kan besoek en die branders ’n behoorlike geleentheid vir branderplankry bied. Doringbaai en Strandfontein is diep in die harte van enige persoon wat die Weskus goed ken, want hier rus ’n mens volkome en is die sonsondergange van die mooistes oor die see. Klink dan ’n glasie op julle Weskus-roetereis by Fryers Cove in Doringbaai en onthou om ’n paar bottels verfrissende Weskus-wyn, ’n snoek of twee en ’n paar bokkoms huis toe te ry — maak maar net die agterste venster oop vir ’n bietjie vars lug. 

Waar? Sommige meen Melkbosstrand tel al as Weskus, maar ons sou sê hy begin by Yzerfontein en eindig by Strandfontein in die noorde. ’n Deel van die binneland, soos Darling en Redelinghuys, val dan ook onder die Weskus.
Dorpe op die roete: Yzerfontein, Langebaan, Saldanha, Jacobsbaai, Velddrif, Vredenburg, Laaiplek, Port Owen, Paternoster, Britanniabaai, St. Helenabaai, Dwarskersbos, Elandsbaai, Lambertsbaai, Doringbaai, Strandfontein en binnelandse dorpe soos Darling, Graafwater en Vanrhynsdorp (hoewel dit ook as Namakwaland kan tel)
Wanneer om te gaan? In die somer gaan jy meer kans sien om die yskoue Atlantiese Oseaan se waters aan te durf, maar die snoek loop in die wintertyd en die uitsigte is nét so mooi.
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die paaie kan ry, tensy jy duine wil ry.

Het jy geweet? Die Voëleiland in Lambertsbaai is een van net ses broeikolonies vir malgasse in die wêreld, en die enigste een wat maklik toeganklik is vir die publiek deur ’n spesiale uitkykpunt en ’n brug wat die eiland aan Lambertsbaai verbind. 

Weskus verblyf West Coast Accommodation
Foto: Salty Sandals op LekkeSlaap.co.za

Rooibosroete

Wes-Kaap

Hierdie roete is vir teeliefhebbers, leergieriges en avontuurlustiges. Jy kan dit kruis en dwars oor die pragtige Cederberg aanpak om ’n leersame avontuur oor een van Suid-Afrikaners se gunsteling-drankies te geniet, of jy kan die tee-faktor bloot as voorwendsel gebruik om jou wiele in die Cederberg se rigting te rig en sy veldblomme, helder sterrenhemel, losstaande rotsformaties en rooi grotte te verken. 

Cederberg caves grotte
Foto: Mount Ceder op LekkeSlaap.co.za

Wat rooibos betref, kan jy uit meer as ’n honderd tees vir ’n teeproesessie by die Velskoendraai Padstal kies en maak dan ook ’n draai by die Destination Cederberg-reistoonbank om te sorg jy put die meeste uit jou tyd in die Cederberg. Woon dan ’n toer by die Carmién-fabriek by, waar verskeie rooibostee-produkte vervaardig word, draai by die Klawer Wynkelder in en proe hulle Rooibos African Ruby Vermouth en ry perd deur die rooibos by Lucky Horse. As jy vooraf bespreek, kan jy ’n rooibostee-plaastoer by Skimmelberg doen en dan sommer ook die aand hier oorslaap. 

Goeie ete-opsies is Letsatsi Lodge in Vanrhynsdorp se Red Ox Steakhouse, maar jy kan ook jou ontbyt en middagete met ’n paar inkopies by Hebron, Kardoesie Padstal of die De Tol Farm Deli vermeng. Ry jy Wupperthal se kant toe wag die geskiedenis van hierdie interessante sendingsdorpie en verskeie kosmetiese rooibosprodukte op jou, en as jy voel jy kort ’n pamperlangsessie ná die dag is die spa by Bushmans Kloof, waar rooibosprodukte gebruik word, ’n goeie roep ─ jy kan ook by hierdie bekroonde hotel oorslaap. As rooibos en uiteet nie jou ding is nie, en jy in die natuur tuis voel, is daar verskeie uitstekende staproetes soos dié wat verby die Wolfberg Arch en Stadsaal-grotte kronkel, en kan jy die prentjiemooi Biedouwvallei verken, die Kromrivier- en Pakhuyspasse ry en in die lentetyd die plate veldblomme saam met Destination Cederberg se toergroep besoek. Maak dan ook in die blomseisoen ’n draai by die Blommekerk in Clanwilliam

Waar? Kruis en dwars oor die Cederberg-streek tussen die Middelbergpas in Citrusdal tot by die Pakhuyspas in Clanwilliam
Dorpe op die roete: Citrusdal, Clanwilliam, Wupperthal 
Wanneer om te gaan? As jy werklik hierdie roete vir die tee doen, is Februarie die beste tyd om te gaan, omdat dit rooibos-oestyd is. As jy eerder baie blomme wil sien, is September die beste tyd om te gaan. En, as jy net lekker wil rondrits, kan jy werklik enige tyd van die jaar gaan. Onthou net dat sommige van die plekke hierbo nie oor naweke oop is nie, so dit is wys om ’n tydjie in die week af te knyp en om vooruit te bel. 
Watter tipe voertuig? ’n Normale sedan-voertuig sal die meeste van die paaie kan ry, maar as jy van plan is om passe soos die Middelbergpas aan te durf, is ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte raadsaam.

Het jy geweet? Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat rooibos verbou en die Cederberg die enigste area van die land waar dit gekweek word. Hierdie Suid-Afrikaanse stapeldrankie is dus vir ons allerdaags, maar oorsee is dit gesog vir sy heerlike smaak en gesondheidsvoordele.

Cederberg verblyf accommodation
Foto: Mount Ceder op LekkeSlaap.co.za

Jy het nou geen rede om met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie! Spring in — ons gaan die land stukkie vir stukkie verken!

Hooffoto: Bigstock